Spreuke 16:15-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. In die vriendelike blik van die koning is lewe, en sy welgevalle is soos ’n wolk van die laat reëns.

16. Hoeveel beter is dit om wysheid te verkry as goud, en verkiesliker om verstand te verwerf as silwer.

17. Die gemaakte pad van die opregtes is om van die kwaad af te wyk; hy wat op sy wandel ag gee, bewaar sy lewe.

18. Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val.

19. Dit is beter om nederig van gees te wees saam met die ootmoediges as om buit te verdeel met die trotsaards.

20. Wie ag gee op die Woord, sal die goeie vind; en hy wat op die Here vertrou, is gelukkig.

21. ’n Wyse van hart word verstandig genoem, en soetheid van lippe vermeerder die lering.

22. ’n Fontein van die lewe is die verstand vir sy besitter, maar die tugtiging van die sotte is sotheid.

23. Die hart van die wyse maak sy mond verstandig en vermeerder die lering op sy lippe.

24. Vriendelike woorde is soos ’n heuningkoek: soet vir die siel en ’n genesing vir die gebeente.

25. Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.

26. Die honger van die werksman arbei vir hom, want sy mond jaag hom aan.

27. ’n Deugniet grawe ’n kuil van onheil, en op sy lippe is soos ’n brandende vuur.

28. ’n Man van valse streke saai tweedrag, en ’n kwaadstoker skei vriende van mekaar.

Spreuke 16