Spreuke 10:7-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Die nagedagtenis van die regverdige is tot seën, maar die naam van die goddelose vergaan.

8. Hy wat wys van hart is, neem die gebooie aan, maar hy wat dwaas van lippe is, kom tot ’n val.

9. Hy wat in opregtheid wandel, wandel veilig, maar hy wat sy weë krom maak, word bekend.

10. Hy wat met sy oog knip, veroorsaak smart, en hy wat dwaas spreek, kom tot ’n val.

11. Die mond van die regverdige is ’n fontein van lewe, maar die mond van die goddelose verberg geweld.

12. Haat verwek twiste, maar liefde bedek al die oortredinge.

13. Op die lippe van die verstandige word wysheid gevind, maar die roede is vir die rug van die verstandelose.

14. Die wyse lê kennis weg, maar die mond van die dwaas is ’n ondergang wat naby is.

15. Die goed van die ryke is vir hom ’n sterk stad; die ondergang van die behoeftiges is hulle armoede.

16. Wat die regverdige verwerf, is vir die lewe; die inkomste van die goddelose is tot sonde.

17. ’n Pad ten lewe is hy wat die tug in ag neem; maar hy wat die teregwysing veronagsaam, raak verdwaald.

Spreuke 10