Romeine 9:15-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. Want aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.

16. So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is.

17. Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde.

18. So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil.

19. Jy sal dan vir my sê: Waarom verwyt Hy dan nog, want wie het sy wil weerstaan?

20. Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie?

21. Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?

22. En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het,

23. juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid,

24. ons naamlik wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene?

25. Soos Hy ook in Hoséa sê: Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem; en haar wat nie bemin is nie, beminde;

26. en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie! — daar sal hulle genoem word kinders van die lewende God.

27. En Jesaja roep oor Israel uit: Al is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, net die oorblyfsel sal gered word;

Romeine 9