Rigters 5:18-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. Sébulon is ’n volk wat sy siel gering ag tot die dood toe; ook Náftali op die hoogvlaktes.

19. Konings het gekom, geveg; toe het die konings van Kanaän geveg by Táänag, by die waters van Megíddo — geen stuk silwer het hulle geneem nie.

20. Uit die hemel het die sterre geveg, uit hulle bane het hulle teen Sísera geveg;

21. die spruit Kison het hulle afgedrywe, die spruit van ontmoeting, die spruit Kison! Tree op, my siel, met mag!

22. Toe het die perdepote geklap van die gejaag, die gejaag van hulle geweldiges.

23. Vloek Meros, sê die Engel van die Here; ja, vervloek sy inwoners, omdat hulle die Here nie tot hulp gekom het nie, die Here tot hulp onder die helde.

24. Mag bo die vroue geseënd wees Jael, die vrou van Heber, die Keniet; geseënd wees bo die vroue in die tent!

Rigters 5