Rigters 1:5-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. En hulle het Adóni-Besek aangetref in Besek en teen hom geveg, en die Kanaäniete en Feresiete verslaan.

6. En toe Adóni-Besek wegvlug, het hulle hom agternagejaag en hom gevang en sy duime en sy groottone afgekap.

7. Daarop sê Adóni-Besek: Sewentig konings met afgekapte duime en groottone het onder my tafel krummels opgetel: soos ek gedoen het, so het God my vergeld. En hulle het hom na Jerusalem gebring, en daar het hy gesterwe.

8. En die kinders van Juda het teen Jerusalem geveg en dit ingeneem en dit met die skerpte van die swaard verslaan en die stad aan die brand gesteek.

9. En daarna het die kinders van Juda afgetrek om te veg teen die Kanaäniete wat op die Gebergte en in die Suidland en in die Laeveld gewoon het.

10. Juda het dan teen die Kanaäniete uitgetrek, die inwoners van Hebron — maar die naam van Hebron was tevore Kirjat-Arba — en hulle het Sesai en Ahíman en Talmai verslaan.

11. En daarvandaan het hy uitgetrek teen die inwoners van Debir — maar die naam van Debir was tevore Kirjat-Sefer.

12. En Kaleb het gesê: Hy wat Kirjat-Sefer verslaan en dit inneem, aan hom sal ek my dogter Agsa as vrou gee.

13. Daarop het Ótniël, die seun van Kenas, die jonger broer van Kaleb, dit ingeneem; en hy het sy dogter Agsa aan hom as vrou gegee.

14. En toe sy aankom, het sy hom aangespoor om van haar vader ’n stuk grond te vra; en toe sy van die esel afklim, sê Kaleb vir haar: Wat wil jy hê?

15. En sy sê vir hom: Gee my tog ’n geskenk; omdat u my na ’n dor land versit het, moet u my waterfonteine gee. Toe gee Kaleb haar fonteine op die hoogte en fonteine in die laagte.

Rigters 1