1. VIR die musiekleier. Van die kinders van Korag. ’n Psalm.
2. U het, o Here, ’n welbehae gehad in u land; die lot van Jakob het U verander.
3. U het die ongeregtigheid van u volk weggeneem, al hulle sonde bedek. Sela.
4. U het al u grimmigheid teruggetrek, U het U van die gloed van u toorn afgewend.
5. Herstel ons, o God van ons heil, en maak tot niet u grimmigheid teen ons!
6. Sal U vir ewig teen ons toornig wees, u toorn laat duur van geslag tot geslag?
7. Sal Ú ons nie weer lewend maak, sodat u volk in U bly kan wees nie?
8. Laat ons u goedertierenheid sien, o Here, en gee ons u heil!