Psalms 78:62-71 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

62. En Hy het sy volk oorgelewer aan die swaard en toornig geword op sy erfdeel.

63. Die vuur het hulle jongmanne verteer, en hulle jongedogters is nie geprys nie.

64. Hulle priesters het deur die swaard geval, en hulle weduwees het nie geween nie.

65. Toe het die Here wakker geword soos een wat slaap, soos ’n held wat oorweldig is deur die wyn;

66. en Hy het sy teëstanders van agter geslaan, Hy het hulle ’n ewige smaadheid aangedoen.

67. En Hy het die tent van Josef verwerp, en die stam van Efraim het Hy nie uitverkies nie,

68. maar die stam van Juda uitverkies, die berg Sion wat Hy liefhet.

69. En Hy het sy heiligdom soos hemelhoogtes gebou, soos die aarde wat Hy vir ewig gegrondves het.

70. En Hy het sy kneg Dawid uitverkies en hom van die skaapkrale af geneem.

71. Agter die lammerooie het Hy hom gaan weghaal, om Jakob, sy volk, op te pas en Israel, sy erfdeel.

Psalms 78