55. En Hy het nasies voor hulle uit verdrywe en dié aan hulle as afgemete erfdeel laat val, en Hy het die stamme van Israel in húlle tente laat woon.
56. Maar hulle het Hom versoek en was wederstrewig teen God, die Allerhoogste, en hulle het sy getuienisse nie onderhou nie.
57. En hulle was afvallig en het troueloos gehandel soos hul vaders; hulle het omgedraai soos ’n bedrieglike boog.
58. En hulle het Hom geterg deur hul hoogtes en deur hul gesnede beelde sy jaloersheid gewek.
59. God het dit gehoor en toornig geword, en Hy het Israel heeltemal verwerp.
60. En Hy het die tabernakel in Silo prysgegee, die tent wat Hy opgeslaan het onder die mense.
61. En Hy het sy sterkte oorgegee in gevangenskap en sy heerlikheid in die hand van die teëstander.
62. En Hy het sy volk oorgelewer aan die swaard en toornig geword op sy erfdeel.
63. Die vuur het hulle jongmanne verteer, en hulle jongedogters is nie geprys nie.
64. Hulle priesters het deur die swaard geval, en hulle weduwees het nie geween nie.
65. Toe het die Here wakker geword soos een wat slaap, soos ’n held wat oorweldig is deur die wyn;
66. en Hy het sy teëstanders van agter geslaan, Hy het hulle ’n ewige smaadheid aangedoen.