Psalms 51:13-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.

14. Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ’n gewillige gees.

15. Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer.

16. Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjubel.

17. Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig.

18. Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie.

19. Die offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!

20. Doen goed aan Sion na u welbehae; bou die mure van Jerusalem op.

21. Dan sal U ’n welbehae hê in die offers van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hulle stiere offer op u altaar.

Psalms 51