Psalms 51:1-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. VIR die musiekleier. ’n Psalm van Dawid,

2. toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Bátseba ingegaan het.

3. Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid.

4. Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde.

5. Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my.

6. Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.

7. Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

8. Kyk, U het ’n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend.

9. Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu.

10. Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het.

11. Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede.

12. Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees.

13. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.

14. Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ’n gewillige gees.

15. Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer.

Psalms 51