61. Die strikke van die goddelose het my omring; u wet het ek nie vergeet nie.
62. Middernag staan ek op om U te loof vir u regverdige verordeninge.
63. Ek is ’n metgesel van almal wat U vrees, en van die wat u bevele onderhou.
64. Here, die aarde is vol van u goedertierenheid; leer my u insettinge.
65. U het goed gedoen aan u kneg, Here, na u woord.
66. Leer my ’n goeie insig en kennis, want ek glo aan u gebooie.
67. Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord.
68. U is goed en doen goed; leer my u insettinge.
69. Vermeteles het my leuens toegedig; maar ék bewaar van ganser harte u bevele.
70. Hulle hart is ongevoelig soos vet; maar ék verlustig my in u wet.
71. Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer.
72. Die wet van u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer.
73. U hande het my gemaak en my toeberei; maak my verstandig, dat ek u gebooie kan leer.
74. Die wat U vrees, sien my, en hulle is bly; want op u woord wag ek.
75. Ek weet, Here, dat u oordele regverdig is en dat U my uit getrouheid verdruk het.
76. Laat tog u goedertierenheid wees om my te troos volgens u belofte aan u kneg.
77. Laat u barmhartighede oor my kom, dat ek kan lewe; want u wet is my verlustiging.
78. Laat die vermeteles beskaamd staan, omdat hulle sonder oorsaak my onregverdig behandel het; maar ék oordink u bevele.