Psalms 119:61-72 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

61. Die strikke van die goddelose het my omring; u wet het ek nie vergeet nie.

62. Middernag staan ek op om U te loof vir u regverdige verordeninge.

63. Ek is ’n metgesel van almal wat U vrees, en van die wat u bevele onderhou.

64. Here, die aarde is vol van u goedertierenheid; leer my u insettinge.

65. U het goed gedoen aan u kneg, Here, na u woord.

66. Leer my ’n goeie insig en kennis, want ek glo aan u gebooie.

67. Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord.

68. U is goed en doen goed; leer my u insettinge.

69. Vermeteles het my leuens toegedig; maar ék bewaar van ganser harte u bevele.

70. Hulle hart is ongevoelig soos vet; maar ék verlustig my in u wet.

71. Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer.

72. Die wet van u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer.

Psalms 119