Psalms 119:132-147 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

132. Wend U tot my en wees my genadig volgens die reg van die wat u Naam liefhet.

133. Maak my voetstappe vas in u woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie.

134. Verlos my van die mens se verdrukking, sodat ek u bevele kan onderhou.

135. Laat u aangesig skyn oor u kneg, en leer my u insettinge.

136. My oë loop af in strome van water, omdat hulle u wet nie onderhou nie.

137. Here, U is regverdig, en reg is u verordeninge.

138. In geregtigheid het U u getuienisse beveel en in louter trou.

139. My ywer verteer my, omdat my teëstanders u woorde vergeet het.

140. U woord is deur en deur gelouter, en u kneg het dit lief.

141. Ek is klein en verag, maar u bevele vergeet ek nie.

142. U geregtigheid is geregtigheid tot in ewigheid, en u wet is waarheid.

143. Benoudheid en angs het my getref, maar u gebooie is my verlustiging.

144. U getuienisse is geregtigheid tot in ewigheid; maak my verstandig, dat ek kan lewe.

145. Ek het geroep van ganser harte; verhoor my, o Here! Ek wil u insettinge bewaar.

146. Ek het U aangeroep; verlos my, dat ek u getuienisse kan onderhou.

147. Voor die môreskemering roep ek om hulp; op u woord wag ek.

Psalms 119