12. Lofwaardig is U, o Here! Leer my u insettinge!
13. Ek het met my lippe vertel al die verordeninge van u mond.
14. Ek is vrolik in die weg van u getuienisse soos oor allerhande rykdom.
15. Ek wil u bevele oordink en op u paaie let.
16. Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie.
17. Doen goed aan u kneg, sodat ek kan lewe; dan wil ek u woord bewaar.
18. Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet.
19. Ek is ’n vreemdeling op die aarde; verberg u gebooie nie vir my nie.