Psalms 119:102-121 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

102. Ek het van u verordeninge nie afgewyk nie, want Ú het my geleer.

103. Hoe soet is u beloftes vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond.

104. Uit u bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke leuenpad.

105. U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.

106. Ek het gesweer, en dit gehou, om u regverdige verordeninge te onderhou.

107. Ek is baie diep neergedruk; Here, maak my lewend na u woord!

108. Laat tog die vrywillige offerandes van my mond U behaag, o Here, en leer my u verordeninge.

109. My lewe is altyddeur in my hand; nogtans vergeet ek u wet nie.

110. Die goddelose het vir my ’n vangnet gespan; nogtans het ek van u bevele nie afgedwaal nie.

111. Ek het u getuienisse vir ewig as erfdeel ontvang, want hulle is die vreugde van my hart.

112. Ek het my hart geneig, om u insettinge te betrag, vir ewig, tot die einde toe.

113. Twyfelaars haat ek, maar u wet het ek lief.

114. U is my skuilplek en my skild; op u woord wag ek.

115. Gaan weg van my, kwaaddoeners, dat ek die gebooie van my God kan bewaar!

116. Ondersteun my volgens u belofte, dat ek kan lewe; en maak my nie beskaamd vanweë my hoop nie.

117. Steun my, dat ek verlos word; dan sal ek altyddeur op u insettinge let.

118. U verag almal wat van u insettinge afdwaal, want hulle bedrieëry is leuens.

119. U ruim al die goddelose van die aarde weg soos skuim; daarom het ek u getuienisse lief.

120. My vlees sidder van skrik vir U, en ek vrees vir u oordele.

121. Ek het reg en geregtigheid gedoen: gee my nie oor aan my verdrukkers nie.

Psalms 119