1. WELGELUKSALIG is die opregtes van weg, wat in die wet van die Here wandel.
2. Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek;
3. ook geen ongeregtigheid doen nie, maar in sy weë wandel.
4. Ú het u bevele gegee om dit trou te onderhou.
5. Ag, was my weë maar vas om u insettinge te onderhou!
6. Dan sal ek nie beskaamd staan as ek op al u gebooie let nie.
7. Ek sal U loof in opregtheid van hart as ek u regverdige verordeninge leer.
8. Ek sal u insettinge onderhou; verlaat my nie geheel en al nie.
9. Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord.
10. Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie.