Psalms 105:34-45 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

34. Hy het gespreek, en daar het sprinkane gekom en voetgangers sonder getal,

35. wat al die plante in hulle land opgeëet het, ja, opgeëet het die vrugte van hulle grond.

36. Hy het ook al die eersgeborenes in hulle land getref, die eerstelinge van al hulle krag.

37. Toe het Hy hulle laat uitgaan met silwer en goud, en onder sy stamme was daar niemand wat struikel nie.

38. Egipte was bly toe hulle uittrek, want vrees vir hulle het op hulle geval.

39. Hy het ’n wolk uitgebrei as bedekking en vuur om die nag te verlig.

40. Hulle het gebid: toe laat Hy kwartels kom; en Hy het hulle versadig met hemelbrood.

41. Hy het ’n rots oopgemaak, en waters het gevloei; dit het geloop deur die dor plekke — ’n rivier!

42. Want Hy het gedink aan sy heilige woord, aan Abraham, sy kneg.

43. En Hy het sy volk laat uitgaan met vreugde, sy uitverkorenes met gejubel.

44. En Hy het aan hulle die lande van die heidene gegee, en wat deur volke met moeite verwerf is, het hulle in besit geneem,

45. dat hulle sy insettinge kan onderhou en sy wette bewaar. Halleluja!

Psalms 105