Psalms 105:21-35 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

21. Hy het hom aangestel as heer oor sy huis en as heerser oor al sy goed;

22. om sy vorste te bind na sy begeerte, en aan sy oudstes moes hy wysheid leer.

23. Toe het Israel na Egipte gekom, en Jakob het as vreemdeling vertoef in die land van Gam.

24. En Hy het sy volk baie vrugbaar gemaak en dit meer versterk as sy teëstanders.

25. Hy het hulle hart verander, om sy volk te haat, om listig teen sy knegte te handel.

26. Hy het Moses, sy kneg, gestuur en Aäron wat Hy uitgekies het.

27. Dié het onder hulle sy aangekondigde tekens gedoen en wonders in die land van Gam.

28. Hy het duisternis gestuur en dit donker gemaak; en hulle was teen sy woorde nie wederstrewig nie.

29. Hy het hulle waters verander in bloed en hulle visse laat sterwe.

30. Hulle land het gewemel van paddas, in die kamers van hulle konings.

31. Hy het gespreek, en daar het steekvlieë gekom, muskiete in hulle hele grondgebied.

32. Hy het hulle reëns hael gemaak, vuurvlamme in hulle land.

33. En Hy het hulle wingerdstok en hulle vyeboom geslaan en die bome van hulle grondgebied verbreek.

34. Hy het gespreek, en daar het sprinkane gekom en voetgangers sonder getal,

35. wat al die plante in hulle land opgeëet het, ja, opgeëet het die vrugte van hulle grond.

Psalms 105