1. LOOF die Here, roep sy Naam aan, maak onder die volke sy dade bekend.
2. Sing, psalmsing tot sy eer, spreek van al sy wonders.
3. Beroem julle in sy heilige Naam; laat die hart van die wat die Here soek, bly wees.
4. Vra na die Here en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur.
5. Dink aan sy wonders wat Hy gedoen het, aan sy wondertekens en die oordele van sy mond,
6. o nageslag van Abraham, sy kneg, o kinders van Jakob, sy uitverkorenes!
7. Hy, die Here, is onse God; oor die hele aarde is sy oordele.
8. Hy dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte —
9. die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, en sy eed aan Isak;
10. wat Hy ook vir Jakob as insetting bekragtig het, vir Israel as ’n ewige verbond,
11. met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle aangewese erfdeel.
12. Toe hulle min mense was, min en vreemdelinge daarin,
13. en hulle getrek het van nasie tot nasie, van die een koninkryk na die ander volk,
14. het Hy geen mens toegelaat om hulle te verdruk nie; ook het Hy konings om hulle ontwil gestraf en gesê:
15. Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie.