Psalms 104:15-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. en dat wyn die mens se hart kan bly maak; om die aangesig te laat blink van olie, en dat brood die mens se hart kan versterk.

16. Die bome van die Here word versadig, die seders van die Líbanon wat Hy geplant het;

17. waar die voëls hulle neste maak, die ooievaar wie se huis die sipresse is.

18. Die hoë berge is vir die steenbokke, die rotse is ’n skuilplek vir die dasse.

19. Hy het die maan gemaak vir die vaste tye; die son ken sy tyd om onder te gaan.

20. U beskik die duisternis, en dit word nag, waarin al die diere van die bos uitkruip.

21. Die jong leeus brul om roof en begeer hulle voedsel van God.

22. As die son opgaan, dan trek hulle hul terug en gaan lê in hul slaapplekke.

23. Die mens gaan uit na sy werk en na sy arbeid tot die aand toe.

24. Hoe talryk is u werke, o Here! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!

25. Daar is die see, groot en alkante toe wyd — daar is ’n gewemel sonder getal, klein diere saam met grotes.

26. Daar gaan die skepe en die Leviátan wat U geformeer het om daarin te speel.

Psalms 104