Prediker 8:14-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. Dit is ’n nietigheid wat op die aarde gebeur, dat daar regverdiges is met wie dit gaan volgens die dade van die goddelose, en dat daar goddelose is met wie dit gaan volgens die dade van die regverdiges; so sê ek dan dat dit ook nietigheid is.

15. Daarom het ek die vreugde geprys, dat daar niks beters is vir die mens onder die son nie as om te eet en te drink en hom te verheug, en dat dit hom mag begelei by sy moeitevolle arbeid gedurende die dae van sy lewe wat God hom gee onder die son.

16. Toe ek my hart daarop gerig het om wysheid te leer ken en om te aanskou die dinge wat op die aarde gedoen word — ja, selfs bedags en snags niemand met sy oë die slaap sien nie —

17. het ek gesien al die werk van God, dat die mens die werk wat gedoen word onder die son, nie kan uitvind nie, omdat die mens hom vermoei om te soek en tog niks uitvind nie; ja, al sou die wyse dink dat hy dit verstaan — hy sal dit nie kan uitvind nie!

Prediker 8