Prediker 12:9-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. EN behalwe dat die Prediker ’n wyse was, het hy die volk nog kennis geleer en het oorweeg en ondersoek; hy het baie spreuke opgestel.

10. Die Prediker het gesoek om welgevallige woorde te vind en wat reg geskrywe is — woorde van waarheid.

11. Die woorde van die wyse manne is soos prikkels; en soos spykers, diep ingeslaan, is die versamelde spreuke; hulle is deur die enige Herder gegee.

12. En buitendien, my seun, wees gewaarsku; aan baie boeke maak kom geen einde nie, en baie studie is vermoeiing van die vlees.

13. Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense.

14. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg.

Prediker 12