1. DIE woorde van die Prediker, die seun van Dawid, die koning in Jerusalem.
2. Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs!
3. Watter voordeel het die mens van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son?
4. Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan.
5. En die son gaan op, en die son gaan onder, en hy hyg na die plek waar hy opgaan.
6. Die wind gaan na die suide en slaan om na die noorde, gaan altyddeur rond, en die wind keer na sy kringloop terug.
7. Al die strome loop in die see, en tog word die see nie vol nie; na die plek waarheen die riviere loop, daarheen loop hulle altyd weer.