Númeri 6:13-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. En dit is die wet van die nasireër: Op die dag as die dae van sy nasireërskap om is, moet hulle hom na die ingang van die tent van samekoms bring;

14. en hy moet sy offer aan die Here bring: een jaaroud lam sonder gebrek as brandoffer en een jaaroud ooilam sonder gebrek as sondoffer en een ram sonder gebrek as dankoffer

15. en ’n mandjie ongesuurde koeke van fynmeel, koeke met olie gemeng en ongesuurde platkoeke met olie bestryk, en die spysoffer en die drankoffers wat daarby behoort.

16. En die priester moet dit voor die aangesig van die Here bring en die sondoffer en brandoffer vir hom berei.

17. Hy moet ook die ram as dankoffer aan die Here gereedmaak saam met die mandjie ongesuurde koeke; en die priester moet die spysoffer en drankoffer vir hom berei.

18. Dan moet die nasireër by die ingang van die tent van samekoms sy gewyde hoof skeer en die hare van sy gewyde hoof neem en dit op die vuur gooi wat onder die dankoffer is.

19. Verder moet die priester die gekookte blad van die ram afneem en een ongesuurde koek uit die mandjie en een ongesuurde platkoek; en hy moet hulle op die hande van die nasireër sit nadat dié sy gewyde hare afgeskeer het.

Númeri 6