Númeri 33:1-9 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. DIT is die trekke van die kinders van Israel wat uit Egipteland uitgetrek het volgens hulle leërafdelings, onder leiding van Moses en Aäron.

2. Volgens die bevel van die Here het Moses die plekke opgeskrywe vanwaar hulle van plek tot plek verder getrek het; en dit is hulle plekke vanwaar hulle al verder getrek het.

3. Hulle het van Raämses af opgebreek in die eerste maand, op die vyftiende dag van die eerste maand; op die dag ná die pasga het die kinders van Israel deur ’n hoë hand voor die oë van al die Egiptenaars uitgetrek,

4. terwyl die Egiptenaars besig was om dié te begrawe wat die Here onder hulle verslaan het, al die eersgeborenes; ook het die Here aan hulle gode strafgerigte voltrek.

5. Toe die kinders van Israel van Raämses af opgebreek het, het hulle laer opgeslaan in Sukkot.

6. En hulle het van Sukkot af opgebreek en laer opgeslaan in Etam wat aan die kant van die woestyn lê.

7. En hulle het van Etam af opgebreek en weggedraai na Pi-Hágirot wat oos van Baäl-Sefon lê; en hulle het laer opgeslaan voor Migdol.

8. En hulle het van Pi-Hágirot af opgebreek en dwarsdeur die see gegaan na die woestyn toe; en hulle het drie dagreise ver die woestyn van Etam ingetrek en laer opgeslaan in Mara.

9. En hulle het van Mara af opgebreek en by Elim gekom; en in Elim was twaalf waterfonteine en sewentig palmbome, en hulle het daar laer opgeslaan.

Númeri 33