Númeri 32:7-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Waarom tog wil julle die hart van die kinders van Israel daarvan afkerig maak om deur te trek in die land wat die Here aan hulle gegee het?

8. So het julle vaders gedoen toe ek hulle van Kades-Barnéa af gestuur het om die land te bekyk.

9. Toe hulle tot by die dal Eskol opgetrek en die land bekyk het, het hulle die hart van die kinders van Israel afkerig gemaak om in die land in te trek wat die Here aan hulle gegee het.

10. Daarom het die toorn van die Here dieselfde dag ontvlam, en Hy het gesweer en gesê:

11. Waarlik, geeneen van die manne wat uit Egipte opgetrek het, van twintig jaar oud en daarbo, sal die land sien wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob met ’n eed beloof het nie; want hulle het nie volhard om My te volg nie —

12. behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne, die Kenissiet, en Josua, die seun van Nun; want hulle het volhard om die Here te volg.

13. En die toorn van die Here het teen Israel ontvlam, en Hy het hulle veertig jaar lank in die woestyn laat rondswerwe, totdat die hele geslag verteer was wat kwaad gedoen het in die oë van die Here.

14. En kyk, julle het opgestaan in die plek van julle vaders, ’n egte kroos van sondige mense, om die toorngloed van die Here teen Israel nog te vermeerder.

15. As julle van Hom afvallig word, sal Hy hulle nog langer in die woestyn laat bly, en julle sal hierdie hele volk te gronde laat gaan.

16. Toe kom hulle na hom toe aan en sê: Ons sal hier skaapkrale bou vir ons vee en stede vir ons kinders.

17. Maar ons self sal ons haastig wapen voor die oë van die kinders van Israel, totdat ons hulle op hul woonplek bring; en ons kinders sal in die versterkte stede bly vanweë die bewoners van die land.

18. Ons sal nie na ons huise teruggaan voordat die kinders van Israel elkeen in besit van sy erfdeel gekom het nie.

19. Want ons sal nie saam met hulle wes van die Jordaan en verder weg erwe nie, omdat ons erfdeel duskant die Jordaan, teen sonop, ons s’n geword het.

20. Toe sê Moses vir hulle: As julle dit doen, as julle jul voor die aangesig van die Here vir die oorlog wapen

21. en elke gewapende man van julle voor die aangesig van die Here deur die Jordaan trek, totdat Hy sy vyande voor sy aangesig uit verdrywe het

22. en die land voor die aangesig van die Here onderwerp is, en julle daarna teruggaan, dan sal julle vrygestel wees voor die Here en voor Israel, en hierdie land sal vir julle ’n besitting word voor die aangesig van die Here.

23. Maar as julle nie so doen nie, kyk, dan sondig julle teen die Here, en weet dan dat julle sonde julle sal uitvind.

24. Bou vir julle stede vir jul kinders en krale vir jul kleinvee, en doen wat uit julle mond uitgegaan het.

25. Toe het die kinders van Gad en die kinders van Ruben met Moses gespreek en gesê: U dienaars sal doen soos my heer beveel het.

26. Ons kinders, ons vroue, ons vee en al ons lasdiere sal daar in die stede van Gílead bly;

Númeri 32