12. behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne, die Kenissiet, en Josua, die seun van Nun; want hulle het volhard om die Here te volg.
13. En die toorn van die Here het teen Israel ontvlam, en Hy het hulle veertig jaar lank in die woestyn laat rondswerwe, totdat die hele geslag verteer was wat kwaad gedoen het in die oë van die Here.
14. En kyk, julle het opgestaan in die plek van julle vaders, ’n egte kroos van sondige mense, om die toorngloed van die Here teen Israel nog te vermeerder.
15. As julle van Hom afvallig word, sal Hy hulle nog langer in die woestyn laat bly, en julle sal hierdie hele volk te gronde laat gaan.
16. Toe kom hulle na hom toe aan en sê: Ons sal hier skaapkrale bou vir ons vee en stede vir ons kinders.
17. Maar ons self sal ons haastig wapen voor die oë van die kinders van Israel, totdat ons hulle op hul woonplek bring; en ons kinders sal in die versterkte stede bly vanweë die bewoners van die land.
18. Ons sal nie na ons huise teruggaan voordat die kinders van Israel elkeen in besit van sy erfdeel gekom het nie.
19. Want ons sal nie saam met hulle wes van die Jordaan en verder weg erwe nie, omdat ons erfdeel duskant die Jordaan, teen sonop, ons s’n geword het.
20. Toe sê Moses vir hulle: As julle dit doen, as julle jul voor die aangesig van die Here vir die oorlog wapen
21. en elke gewapende man van julle voor die aangesig van die Here deur die Jordaan trek, totdat Hy sy vyande voor sy aangesig uit verdrywe het
22. en die land voor die aangesig van die Here onderwerp is, en julle daarna teruggaan, dan sal julle vrygestel wees voor die Here en voor Israel, en hierdie land sal vir julle ’n besitting word voor die aangesig van die Here.