14. En nou, kyk, ek gaan na my volk toe. Kom, ek sal jou inligting gee, wat hierdie volk jou volk sal aandoen aan die einde van die dae.
15. Toe het hy sy spreuk aangehef en gesê: Bíleam, die seun van Beor, spreek, en die man met geopende oog spreek.
16. Die hoorder van die woorde van God spreek, en hy wat die wetenskap van die Allerhoogste ken, wat die gesigte van die Almagtige sien wat neerval en geopende oë het.
17. Ek sien hom, maar nie nou nie, ek aanskou hom, maar nie naby nie: ’n ster kom te voorskyn uit Jakob, en ’n septer kom uit Israel op, en hy verbrysel die slape van die hoof van Moab en werp al die oorlogsugtiges omver.
18. Ook sal Edom ’n besitting wees; en Seïr, sy vyande, sal ’n besitting wees, maar Israel neem toe in krag.