4. En God het Bíleam tegemoetgekom, en hy het vir Hom gesê: Sewe altare het ek reggemaak en ’n bul en ’n ram op elke altaar geoffer.
5. Toe lê die Here ’n woord in Bíleam se mond en sê: Gaan terug na Balak, en so moet jy spreek.
6. En hy het na hom teruggegaan terwyl hy daar staan by sy brandoffer, hy en al die vorste van Moab.
7. En hy het sy spreuk aangehef en gesê: Uit Aram laat Balak my haal, die koning van Moab — uit die berge van die Ooste: Kom vervloek Jakob vir my, en kom, verwens Israel.
8. Hoe sal ek vloek wie Gód nie vloek nie? En hoe sal ek verwens vir wie die Here nie verwens nie?
9. Want van die top van die rotse af sien ek hom, en van die heuwels af aanskou ek hom. Kyk, ’n volk wat afgesonderd woon en hom nie tot die nasies reken nie.
10. Wie het die stof van Jakob getel? En wie, volgens getal, die vierde deel van Israel? Laat my sterwe die dood van die opregtes, en laat my einde soos syne wees!
11. Toe sê Balak vir Bíleam: Wat het jy my aangedoen? Ek het jou laat haal om my vyande te vloek, en kyk, jy het net geseën!
12. En hy antwoord daarop dít: Moet ek dan nie sorgvuldig alles spreek wat die Here in my mond lê nie?
13. Daarop sê Balak vir hom: Kom tog saam met my na ’n ander plek vanwaar jy hom kan sien — net sy kant sal jy sien, maar heeltemal kan jy hom nie sien nie — en vervloek hom daarvandaan vir my.