Númeri 15:29-38 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

29. Wat die kind van die land onder die kinders van Israel aangaan en die vreemdeling wat onder hulle vertoef — een en dieselfde wet moet vir julle geld, vir hom wat in swakheid iets doen.

30. Maar die siel wat iets moedswillig doen, van die kinders van die land of van die vreemdelinge, hy versmaad die Here; en dié siel moet uitgeroei word onder sy volk uit.

31. Want die woord van die Here het hy verag en sy gebod verbreek. Dié siel moet sekerlik uitgeroei word; sy ongeregtigheid is op hom.

32. EN toe die kinders van Israel in die woestyn was, het hulle ’n man gekry wat op die sabbatdag hout bymekaarmaak.

33. En die wat hom gekry het terwyl hy hout bymekaarmaak, het hom na Moses en Aäron en na die hele vergadering gebring.

34. En hulle het hom in die gevangenis gesit, want dit was nie beslis wat met hom gedoen moes word nie.

35. Toe sê die Here vir Moses: Die man moet sekerlik gedood word; die hele vergadering moet hom buitekant die laer stenig.

36. Toe het die hele vergadering hom buitekant die laer uitgebring en hom gestenig, dat hy gesterf het, soos die Here Moses beveel het.

37. EN die Here het met Moses gespreek en gesê:

38. Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle, hulle moet vir hulle klossies maak aan die hoeke van hul klere, in hulle geslagte, en aan die hoekklossies ’n draad van pers stof vasbind.

Númeri 15