20. ook hoe die land is, of dit vet of skraal is, of daar bome in is of nie; en wees dapper en bring van die vrugte van die land saam. Dit was toe die tyd van die eerste druiwe.
21. En hulle het opgetrek en die land verken van die woestyn Sin af tot by Rehob, na die ingang van Hammat —
22. hulle het in die Suidland opgetrek en tot by Hebron gekom; en daar was Ahíman, Sesai en Talmai, die kinders van die Enakiete. En Hebron is sewe jaar voor Soan in Egipte gebou.
23. Daarop het hulle tot by die dal Eskol gekom en daar ’n rank met een tros druiwe afgesny, en twee het dit aan ’n draagstok gedra; ook van die granate en van die vye.
24. Dié plek het hulle die dal Eskol genoem vanweë die tros wat die kinders van Israel daar afgesny het.
25. En ná verloop van veertig dae het hulle teruggekom van die land te verken.
26. En hulle het weggegaan en by Moses en Aäron en die hele vergadering van die kinders van Israel gekom in die woestyn Paran, in Kades, en aan hulle berig gebring, en aan die hele vergadering en hulle die vrugte van die land laat sien.
27. En hulle het hom vertel en gesê: Ons het gekom in die land waarheen u ons gestuur het; en waarlik, dit loop oor van melk en heuning, en dít is sy vrugte.
28. Maar die volk wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien.
29. Die Amalekiete woon in die Suidland, maar die Hetiete en Jebusiete en Amoriete woon in die gebergte, en die Kanaäniete woon by die see en aan die kant van die Jordaan.
30. Toe het Kaleb die volk stil gemaak teenoor Moses en gesê: Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig.
31. Maar die manne wat saam met hom opgetrek het, het gesê: Ons kan nie teen die volk optrek nie, want hulle is sterker as ons.
32. So het hulle dan slegte gerugte onder die kinders van Israel versprei oor die land wat hulle verken het, deur te sê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ’n land wat sy inwoners verteer; en al die mense wat ons daarin gesien het, is groot manne.