17. En Moses het hulle gestuur om die land Kanaän te verken en vir hulle gesê: Trek hier in die Suidland op en beklim die gebergte.
18. En bekyk die land, hoe dit is, en die volk wat daarin woon, of dit sterk of swak, of dit min of baie is;
19. en hoe die land is waar hulle in woon, of dit goed of sleg is; en hoe die stede is waar hulle in woon, laers of vestings;
20. ook hoe die land is, of dit vet of skraal is, of daar bome in is of nie; en wees dapper en bring van die vrugte van die land saam. Dit was toe die tyd van die eerste druiwe.
21. En hulle het opgetrek en die land verken van die woestyn Sin af tot by Rehob, na die ingang van Hammat —
22. hulle het in die Suidland opgetrek en tot by Hebron gekom; en daar was Ahíman, Sesai en Talmai, die kinders van die Enakiete. En Hebron is sewe jaar voor Soan in Egipte gebou.
23. Daarop het hulle tot by die dal Eskol gekom en daar ’n rank met een tros druiwe afgesny, en twee het dit aan ’n draagstok gedra; ook van die granate en van die vye.