8. Die volk het rondgeloop en dit versamel en in handmeule gemaal of in vysels gestamp, en hulle het dit in potte gekook en daarvan roosterkoeke gemaak. En die smaak daarvan was soos die smaak van oliekoeke.
9. En as die dou snags op die laer val, het die manna ook daarop geval.
10. Toe het Moses die volk, volgens hulle geslagte, elkeen by die deur van sy tent hoor ween; en die toorn van die Here het grootliks ontvlam; ook was dit verkeerd in die oë van Moses.
11. En Moses sê aan die Here: Waarom het U u kneg kwaad aangedoen en waarom het ek geen genade in u oë gevind nie, dat U die las van hierdie hele volk op my lê?
12. Het ék hierdie hele volk dan ontvang? Of het ék hulle gebaar, dat U vir my sê: Dra hulle aan jou bors soos ’n oppasser die suigling dra, na die land wat U aan hulle vaders met ’n eed beloof het?
13. Waarvandaan moet ek vleis kry om aan al hierdie volk te gee? Want hulle ween by my en sê: Gee vir ons vleis, dat ons kan eet.
14. Ek alleen kan hierdie hele volk nie dra nie, want dit is vir my te swaar.