Númeri 1:40-54 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

40. Van die seuns van Aser, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek —

41. hulle geteldes van die stam van Aser was een-en-veertigduisend-vyfhonderd.

42. Van die seuns van Náftali, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek —

43. hulle geteldes van die stam van Náftali was drie-en-vyftigduisend-vierhonderd.

44. Dit is die geteldes wat Moses en Aäron en die owerstes van Israel getel het; twaalf man was dit, elkeen vir sy families.

45. So was dan al die geteldes van die kinders van Israel volgens hulle families, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat in Israel op kommando moet uittrek —

46. al die geteldes dan was seshonderd-en-drieduisend-vyfhonderd-en-vyftig.

47. Maar die Leviete, volgens hulle voorvaderlike stam, is onder hulle nie getel nie.

48. Die Here het naamlik met Moses gespreek en gesê:

49. Net die stam van Levi moet jy nie tel nie en hulle volle getal onder die kinders van Israel nie opneem nie;

50. maar stel jy die Leviete aan oor die tabernakel van die Getuienis en oor al sy gereedskap en oor alles wat daarby behoort. Húlle moet die tabernakel dra en alles wat daarby behoort, en húlle moet dit bedien en rondom die tabernakel laer opslaan.

51. En as die tabernakel wegtrek, moet die Leviete dit afbreek; en as die tabernakel rus, moet die Leviete dit oprig; en die onbevoegde wat nader kom, moet gedood word.

52. En die kinders van Israel moet laer opslaan elkeen op sy laerplek en elkeen by sy vaandel, volgens hulle leërafdelings.

53. Maar die Leviete moet laer opslaan rondom die tabernakel van die Getuienis, dat daar geen toorn oor die vergadering van die kinders van Israel kom nie. So moet dan die Leviete die diens van die tabernakel van die Getuienis waarneem.

54. En die kinders van Israel het dit gedoen; net soos die Here Moses beveel het, so het hulle gedoen.

Númeri 1