1. EN toe Sanbállat en Tobía en Gesem, die Arabier, en ons ander vyande verneem dat ek die muur gebou het en dat daar geen skeur in oorgebly het nie, alhoewel ek tot dié tyd toe geen deure in die poorte gesit het nie,
2. laat Sanbállat en Gesem my weet: Kom laat ons bymekaarkom in een van die dorpe, in die laagte van Ono; maar hulle het gemeen om my kwaad aan te doen.
3. Toe stuur ek boodskappers na hulle om te sê: Ek doen ’n groot werk, sodat ek nie kan afkom nie. Waarom moet die werk ophou sodra ek dit verlaat om na julle af te kom?
4. Nog vier keer het hulle op dieselfde manier na my gestuur, en ek hulle op dieselfde manier geantwoord.
5. Daarop stuur Sanbállat op dieselfde manier vir die vyfde keer sy dienaar na my met ’n ope brief in sy hand.
6. Daarin was geskrywe: Die gerug gaan rond onder die volke, en Gasmu sê: Jy en die Jode is van plan om te rebelleer; daarom bou jy die muur, en jy sal hulle koning word — dergelike dinge.
7. Ook het jy profete aangestel om van jou in Jerusalem uit te roep en te sê: Koning in Juda! En nou, sulke dinge sal deur die koning gehoor word; kom dan nou en laat ons saam beraadslaag!