Matthéüs 8:5-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. EN nadat Jesus in Kapérnaüm ingegaan het, kom daar ’n hoofman oor honderd na Hom toe en smeek Hom

6. en sê: Here, my kneg lê tuis verlam en hy ly hewige pyne.

7. Daarop sê Jesus vir hom: Ek sal kom en hom gesond maak.

8. En die hoofman oor honderd antwoord en sê: Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie; maar spreek net ’n woord, en my kneg sal gesond word.

9. Want ek is ook ’n man onder gesag, en ek het soldate onder my. En vir hierdie een sê ek: Gaan! en hy gaan; en vir ’n ander een: Kom! en hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! en hy doen dit.

10. Toe Jesus dit hoor, het Hy Hom verwonder en aan sy volgelinge gesê: Voorwaar Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so ’n groot geloof nie gevind nie.

11. Maar Ek sê vir julle dat baie sal kom van ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob sal aansit in die koninkryk van die hemele.

12. Maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.

13. Toe sê Jesus vir die hoofman oor honderd: Gaan, en laat dit vir jou wees soos jy geglo het. En sy kneg het gesond geword in daardie uur.

14. EN toe Jesus in die huis van Petrus kom, sien Hy sy skoonmoeder siek lê aan die koors.

15. En Hy het haar hand aangeraak, en die koors het haar verlaat, en sy het opgestaan en hulle bedien.

16. En toe dit aand geword het, het hulle baie na Hom gebring, wat van duiwels besete was; en Hy het die geeste met ’n woord uitgedrywe; en almal wat ongesteld was, het Hy gesond gemaak,

17. sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het: Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra.

18. EN toe Jesus groot menigtes rondom Hom sien, het Hy bevel gegee om te vertrek na die oorkant.

19. En ’n sekere skrifgeleerde het gekom en vir Hom gesê: Meester, ek sal U volg waar U ook al mag gaan.

20. En Jesus sê vir hom: Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie.

21. En ’n ander een van sy dissipels het vir Hom gesê: Here, laat my toe om eers te gaan en my vader te begrawe.

22. Maar Jesus sê vir hom: Volg My, en laat die dooies hul eie dooies begrawe.

23. EN toe Hy in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg.

24. En daar het ’n groot storm op die see gekom, sodat die skuit toe was onder die golwe; maar Hy was aan die slaap.

Matthéüs 8