Matthéüs 24:20-30 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

20. En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie.

21. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.

22. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.

23. As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! — moet dit nie glo nie.

24. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.

25. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê.

26. As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn — moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer — moet dit nie glo nie.

27. Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.

28. Want oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom.

29. EN dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word.

30. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.

Matthéüs 24