21. en wie sweer by die tempel, sweer dáárby en by Hom wat daarin woon;
22. en wie sweer by die hemel, sweer by die troon van God en by Hom wat daarop sit.
23. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.
24. Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk!
25. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid.
26. Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word.
27. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is.
28. So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid.
29. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle bou die grafte van die profete en versier die grafstene van die regverdiges;
30. en julle sê: As ons in die dae van ons vaders geleef het, sou ons geen deel met hulle gehad het aan die bloed van die profete nie.
31. Julle gee dus teen julself getuienis dat julle kinders is van die wat die profete vermoor het.
32. Maak die maat van julle vaders dan vol!
33. Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?
34. Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg,
35. sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaría, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar.
36. Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom.