15. En Hy het hulle die hande opgelê en daarvandaan vertrek.
16. EN daar kom een na Hom en sê vir Hom: Goeie Meester, watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê?
17. En Hy sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe een, naamlik God. Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie.
18. Hy vra Hom: Watter? En Jesus sê — dit: Jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie egbreek nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie;
19. eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
20. Die jongman sê vir Hom: Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af. Wat kom ek nog kort?
21. Jesus antwoord hom: As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My.
22. Maar toe die jongman dié woord hoor, het hy bedroef weggegaan; want hy het baie besittings gehad.
23. En Jesus sê vir sy dissipels: Voorwaar Ek sê vir julle dat ’n ryk man beswaarlik in die koninkryk van die hemele sal ingaan.
24. En verder sê Ek vir julle, dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.
25. Toe sy dissipels dit hoor, was hulle baie verslae en sê: Wie kan dan gered word?
26. Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik.
27. Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal daar dan vir ons wees?