Matthéüs 16:12-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. Toe het hulle begryp dat Hy nie gesê het dat hulle moes oppas vir die suurdeeg van die brood nie, maar vir die leer van die Fariseërs en Sadduseërs.

13. EN toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filíppi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is?

14. En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete.

15. Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek?

16. En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God.

17. Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.

18. En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

19. En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.

20. Daarop het Hy sy dissipels bevel gegee dat hulle vir niemand moes sê dat Hy Jesus die Christus is nie.

21. Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word.

22. Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie!

23. Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.

24. TOE sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.

25. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.

26. Want wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ’n mens gee as losprys vir sy siel?

Matthéüs 16