1. EN Hy het nog ’n maal by die see begin leer; en ’n groot menigte het by Hom saamgekom, sodat Hy in die skuit geklim en op die see gaan sit het, en die hele skare was op die land by die see.
2. En Hy het hulle baie dinge geleer deur gelykenisse en vir hulle in sy lering gesê:
3. Luister! ’n Saaier het uitgegaan om te saai.
4. En terwyl hy saai, het ’n deel langs die pad geval, en die voëls van die hemel het gekom en dit opgeëet.
5. En ’n ander deel het op ’n rotsagtige plek geval waar dit nie baie grond gehad het nie; en dadelik het dit opgekom, omdat dit geen diepte van grond gehad het nie.
6. En toe die son opgaan, is dit verskroei; en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog.