4. Maar Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God.
5. Toe bring die duiwel Hom op ’n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in ’n oomblik se tyd.
6. En die duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil.
7. As U my dan aanbid, sal alles aan U behoort.
8. En Jesus antwoord en sê vir hom: Gaan weg agter My, Satan, want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.
9. Toe bring hy Hom na Jerusalem en stel Hom op die dak van die tempel en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself hiervandaan neer.
10. Want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U om U te bewaar,
11. en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ’n klip stamp nie.
12. En Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.
13. En toe die duiwel elke versoeking geëindig het, het hy ’n tyd lank van Hom gewyk.
14. EN Jesus het in die krag van die Gees na Galiléa teruggekeer, en daar het ’n gerug aangaande Hom deur die hele omtrek uitgegaan;
15. en Hy het in hulle sinagoges geleer en is deur almal geprys.
16. Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees.
17. En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is:
18. Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees;