18. Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie drink van die vrug van die wynstok voordat die koninkryk van God gekom het nie.
19. Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis.
20. Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word.
21. Maar kyk, die hand van hom wat My verraai, is by My aan tafel.
22. Die Seun van die mens gaan wel heen volgens wat bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word!
23. Toe begin hulle onder mekaar te vra wie van hulle dit tog kon wees wat dit sou doen.
24. EN daar het ook twis onder hulle ontstaan oor wie van hulle die grootste geag moet wees.