26. En by dit alles is daar tussen ons en julle ’n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.
27. En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur —
28. want ek het vyf broers — om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie.
29. Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister.
30. Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer.
31. Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.