42. en het met ’n groot stem uitgeroep en gesê: Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou skoot!
43. En wat het my oorgekom dat die moeder van my Here na my toe kom?
44. Want kyk, toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my skoot van vreugde opgespring.
45. En salig is sy wat geglo het, want die dinge wat deur die Here aan haar gesê is, sal vervul word.
46. EN Maria het gesê: My siel maak die Here groot,
47. en my gees is verheug in God, my Saligmaker;
48. omdat Hy die nederige toestand van sy diensmaagd aangesien het; want kyk, van nou af sal al die geslagte my salig noem.
49. Want Hy wat magtig is, het groot dinge aan my gedoen, en heilig is sy Naam.
50. En sy barmhartigheid is van geslag tot geslag vir die wat Hom vrees.
51. Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy verstrooi.
52. Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog.
53. Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes met leë hande weggestuur.
54. Hy het sy kneg Israel bygestaan, sodat Hy aan sy barmhartigheid sou dink —
55. soos Hy tot ons vaders gespreek het — aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid.
56. En Maria het by haar omtrent drie maande gebly; en sy het teruggegaan na haar huis toe.
57. EN die tyd dat sy moeder moes word, is vir Elisabet vervul, en sy het ’n seun gebaar.
58. En toe haar bure en bloedverwante hoor dat die Here sy barmhartigheid aan haar groot gemaak het, was hulle saam met haar bly.
59. En op die agtste dag het hulle gekom om die kindjie te besny, en hulle wou hom Sagaría noem, na die naam van sy vader.
60. Toe antwoord sy moeder en sê: Nee, maar hy moet Johannes genoem word.
61. En hulle sê vir haar: Daar is niemand in jou familie wat dié naam het nie.
62. En hulle beduie vir sy vader hoe hy wou hê dat hy genoem moes word.