37. As hy die plaag bekyk en sien dat die plaag aan die mure van die huis is soos liggroen of rooierige kuiltjies, en hulle dieper lyk as die muur,
38. dan moet die priester uit die huis uitgaan na die deur van die huis en die huis sewe dae lank toesluit.
39. Op die sewende dag moet die priester dan terugkom; sien hy dan dat die plaag hom uitgebrei het aan die mure van die huis,
40. dan moet die priester bevel gee dat hulle die klippe uitbreek waaraan die plaag is, en dit buitekant die stad op ’n onrein plek gooi.
41. En die huis moet hulle binnekant rondom afkrap en die klei wat hulle afgekrap het, buitekant die stad op ’n onrein plek weggooi.
42. Dan moet hulle ander klippe neem en in die plek van daardie klippe insit, en hulle moet ander klei neem en die huis pleister.
43. Maar as die plaag weer in die huis uitbreek nadat hulle die klippe uitgebreek en die huis afgekrap het en dit gepleister is,
44. moet die priester kom; en as hy sien dat die plaag in die huis versprei het, dan is dit ’n kwaadaardige melaatsheid in die huis; dit is onrein.
45. Daarom moet hulle die huis afbreek: sy klippe en sy hout en al die klei van die huis, en hulle moet dit buitekant die stad op ’n onrein plek uitbring.
46. En hy wat in die huis kom, al die tyd dat hulle dit toegesluit hou, sal tot die aand toe onrein wees.
47. En hy wat in die huis slaap, moet sy klere was; en hy wat in die huis eet, moet sy klere was.
48. Maar as die priester kom en sien dat die plaag nie in die huis versprei het nadat die huis gepleister is nie, dan moet die priester die huis rein verklaar, want die aangetaste plek het gesond geword.
49. Dan moet hy om die huis te ontsondig twee voëls neem en sederhout en skarlakendraad en hisop,
50. en die een voël in ’n erdepot oor vars water slag.
51. Dan moet hy die sederhout en die hisop en die skarlakendraad en die lewendige voël neem en dit in die bloed van die geslagte voël en in die vars water insteek; en hy moet die huis sewe maal besprinkel.