9. Dit mag julle eet van alles wat in die water is: alles wat vinne en skubbe het in die water, in die seë en in die riviere — dit mag julle eet.
10. Maar alles wat geen vinne en skubbe het in die seë en in die riviere nie, van al die gewemel van die water en van al die lewende wesens wat in die water is — ’n gruwel is dit vir julle.
11. Ja, ’n gruwel moet hulle vir julle wees; van hulle vleis mag julle nie eet nie, en hulle aas moet julle vir ’n gruwel hou.
12. Alles wat geen vinne of skubbe in die water het nie — ’n gruwel is dit vir julle.
13. En die volgende moet julle van die voëls vir ’n gruwel hou — hulle mag nie geëet word nie, ’n gruwel is hulle: die arend en die lammervanger en die aasvoël;
14. en die kuikendief en die valk volgens sy soorte;
15. elke kraai volgens sy soorte;
16. en die volstruis en die naguil en die seemeeu en die kleinvalk volgens sy soorte;
17. en die steenuil en die visvanger en die steunuil;
18. en die silweruil en die pelikaan en die klein aasvoël;
19. en die groot sprinkaanvoël, die reier volgens sy soorte, die hoep-hoep en die vlermuis.
20. Al die insekte met vlerke wat op vier pote loop — ’n gruwel is hulle vir julle.
21. Maar die volgende mag julle eet van al die insekte met vlerke wat op vier pote loop: wat bokant die pote springbene het om daarmee op die grond te spring.
22. Van hulle mag julle die volgende eet: die treksprinkaan volgens sy soorte en die boomsprinkaan volgens sy soorte en die springer volgens sy soorte en die voetganger volgens sy soorte.
23. Maar al die ander insekte met vlerke wat vier pote het — ’n gruwel is hulle vir julle.
24. En deur hierdie diere word julle verontreinig — elkeen wat aan hulle aas raak, sal tot die aand toe onrein wees;
25. en elkeen wat van hulle aas dra, moet sy klere was en sal tot die aand toe onrein wees —
26. aan al die diere wat gesplitste kloue het, wat nie heeltemal gesplits is nie, en wat nie herkou nie. Onrein is hulle vir julle; elkeen wat aan hulle raak, sal onrein wees.
27. En alles wat op kaal pote loop onder al die viervoetige diere — onrein is hulle vir julle; elkeen wat aan hulle aas raak, sal tot die aand toe onrein wees.