Josua 10:3-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. Adóni-Sedek, die koning van Jerusalem, stuur toe na Hoham, die koning van Hebron, en na Píream, die koning van Jarmut, en na Jáfia, die koning van Lagis, en na Debir, die koning van Eglon, om te sê:

4. Trek na my toe op en help my, dat ons Gíbeon kan verslaan, omdat hy met Josua en met die kinders van Israel vrede gesluit het.

5. So het dan die vyf Amoritiese konings vergader en opgetrek: die koning van Jerusalem, die koning van Hebron, die koning van Jarmut, die koning van Lagis, die koning van Eglon, hulle en al hul leërmagte; en hulle het Gíbeon beleër en daarteen geveg.

6. Maar die manne van Gíbeon het na Josua gestuur, in die laer van Gilgal, om te sê: Trek u hande nie af van u dienaars nie, kom gou op na ons toe en verlos ons en help ons; want al die konings van die Amoriete wat die Gebergte bewoon, het hulle teen ons verenig.

7. Daarop het Josua opgetrek uit Gilgal, hy en al die weerbare manskappe en al die dapper helde met hom saam.

8. En die Here het aan Josua gesê: Wees nie bevrees vir hulle nie, want Ek gee hulle in jou hand; niemand van hulle sal voor jou standhou nie.

9. Toe Josua hulle skielik oorval — hy het die hele nag deur van Gilgal af opgetrek —

10. het die Here hulle in verwarring gebring voor Israel, en hy het ’n groot slag onder hulle geslaan by Gíbeon en hulle agtervolg op pad na die hoogte van Bet-Horon en hulle verslaan tot by Aséka en tot by Makkéda.

11. En toe hulle voor Israel uit vlug terwyl hulle op die afdraand van Bet-Horon was, het die Here groot haelstene uit die hemel op hulle gewerp tot by Aséka, sodat hulle gesterf het; daar het meer gesterf deur die haelstene as wat die kinders van Israel met die swaard doodgeslaan het.

12. Toe het Josua met die Here gespreek, op die dag dat die Here die Amoriete aan die kinders van Israel oorgegee het, en voor die oë van Israel gesê: Son, staan stil in Gíbeon, en maan, in die dal van Ájalon!

13. Toe staan die son stil en bly die maan staan totdat die volk hulle gewreek het op hul vyande. Staan dit nie geskrywe in die Boek van die Opregte nie? En die son het bly staan in die middel van die hemel en het hom nie gehaas om onder te gaan nie, omtrent ’n volle dag.

14. En daar was geen dag soos hierdie een, voor hom en ná hom, dat die Here na die stem van ’n man geluister het nie; want die Here het vir Israel gestry.

15. Daarop het Josua, en die hele Israel met hom saam, na die laer van Gilgal teruggekeer.

16. Maar daardie vyf konings het gevlug en weggekruip in die spelonk by Makkéda.

Josua 10