7. Eers daarna sê Hy aan die dissipels: Laat ons weer na Judéa gaan.
8. Die dissipels sê vir Hom: Rabbi, die Jode het onlangs probeer om U te stenig, en gaan U weer daarnatoe?
9. Jesus antwoord: Is daar nie twaalf ure in die dag nie? As iemand in die dag wandel, stamp hy hom nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien.
10. Maar as iemand in die nag wandel, stamp hy hom, omdat die lig nie in hom is nie.
11. Dit het Hy gespreek; en daarna sê Hy vir hulle: Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak.
12. Sy dissipels sê toe: Here, as hy slaap, sal hy gesond word.
13. Maar Jesus het gespreek van sy dood, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van die slaap spreek.
14. En toe sê Jesus vir hulle ronduit: Lasarus is dood.
15. En Ek is bly om julle ontwil dat Ek nie daar was nie, sodat julle kan glo. Maar laat ons na hom toe gaan.
16. En Thomas, wat Dídimus genoem word, sê vir sy mededissipels: Laat ons ook gaan om saam met Hom te sterwe.
17. Toe Jesus dan gekom het, het Hy gevind dat hy al vier dae in die graf was.
18. En Betánië was naby Jerusalem, omtrent twee myl daarvandaan.
19. En baie van die Jode het al by Martha en Maria gekom om hulle oor hul broer te troos.
20. En toe Martha hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoetgegaan. Maar Maria het in die huis bly sit.
21. En Martha sê vir Jesus: Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie.
22. Maar selfs nou weet ek dat alles wat U van God vra, God U sal gee.
23. Jesus sê vir haar: Jou broer sal opstaan.
24. Martha antwoord Hom: Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag.