Johannes 11:20-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

20. En toe Martha hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoetgegaan. Maar Maria het in die huis bly sit.

21. En Martha sê vir Jesus: Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie.

22. Maar selfs nou weet ek dat alles wat U van God vra, God U sal gee.

23. Jesus sê vir haar: Jou broer sal opstaan.

24. Martha antwoord Hom: Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag.

25. Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe;

26. en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?

27. Sy antwoord Hom: Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, wat in die wêreld sou kom.

28. En nadat sy dit gesê het, gaan sy en roep Maria, haar suster, stilletjies en sê: Die Meester is hier en Hy roep jou.

29. Sy het, toe sy dit hoor, vinnig opgestaan en na Hom toe gegaan.

30. En Jesus het nog nie in die dorp gekom nie, maar was op die plek waar Martha Hom tegemoetgegaan het.

31. En toe die Jode wat by haar in die huis was en haar getroos het, sien dat Maria vinnig opstaan en uitgaan, het hulle haar gevolg en gesê: Sy gaan na die graf om daar te ween.

32. En toe Maria kom waar Jesus was en Hom sien, val sy aan sy voete neer en sê vir Hom: Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie.

Johannes 11